...
 
 
 
 
 
 

  

   

 
 
 

Gee ‘n kort agtergrond oor jou loopbaan in radiowese?
Ek het in 2002 toe ek nog in Klerksdorp gebly het begin om ‘n weeklikse radio-program oor rekenaars, Komperklets, by die huis op te neem en deur te stuur vir uitsending. Ek het ook advertensies opgeneem vir Overvaal Stereo op ‘n deeltydse basis. Die geleentheid het hom toe in 2004 voorgedoen en ek het na Viljoenskroon verhuis en as klankingenieur begin werk en steeds die rekenaarprogram aangebied. Later het ek op Vrydagmiddae ‘n musiekprogram aangebied met nuwe Afrikaanse musiek. Ek het ook ingestaan as iemand op verlof was, veral in versoekprogramme en die Top 20. Later is ek na die ontbytprogram geskuif en het Wakker Word Opstaan-Ontbyt van Maandae tot Saterdae asook die Top 20 aangebied. Ek het in 2006 na Witbank verhuis en by Radio Kragbron aangesluit waar ek ook die ontbytskof aangebied het en ook promosiebestuurder en later advertensiebestuurder was. Sedert September 2009 is ek weer terug by Overvaal Stereo nadat ek intussen met ‘n boorling van Viljoenskroon getroud is.

Wat was tot dusver die vreemdste ding wat in die ateljee gebeur het?

Sjoe, daar was talle! Ek sal eerder wil swyg oor meeste. Maar ek het al baie op die tafels gedans terwyl kollegas nuus lees. Ek kan egter met vrymoedigheid sê dat ek (anders as ander kollegas) steeds kan bly uitsaai al ontplof ‘n bom langs my. Jy sal nie my aandag maklik aftrek of my aan die lag kry nie. As ek uitsaai is ek erg gefokus.

Wie was die vreemdste onderwyser wat jy op skool gehad het?
My Afrikaanse onderwyser, Mnr de Klerk. Hy kon glad nie sy nek draai nie en moes sy hele lyf omdraai as hy wou sien wat agter hom aangaan. Hy was ook die amptelike skoolfotograaf en dit was net so vreemd vir my met daardie stywe nek…

As jy 'n dag lank 'n animasiekarakter kon wees, wie sou jy wou wees en hoekom?

Popeye, want dan het ek vir slegs EEN dag die geleentheid om spinasie te eet vir my ystervlakke. Maar na die dag hoef ek nie weer my mond aan daardie sandblare te sit nie.

Wat is die vreemdste liedjie wat jy al ooit gehoor het?

Al die sogenaamde “Novelty Songs” soos Schnappi Das Kleine Krokodil, Asereje (Ketchup Song), Macarena, Barbie Girl, I’m Lonely en die 80’s se Moo Song. Daardie tipe liedjies laat my gril…

Hoe het radio verander sedert jy begin het?

In wese het radio as medium vir my meer dinamies geword en die gemeenskapsradiomark ook meer mededingend. Dit is daarom noodsaaklik om tans by te bly met die jongste tegnologie. Ek is ‘n voorstaander van tegnologie en probeer elke dag steeds om die radiostasie te laat byhou daarmee. Ek kan met trots sê dat ek en Willie Nel destyds daarvoor verantwoordelik was om Overvaal Stereo te rekenariseer. Ons het ook “Sampie” se naam vir hom gegee. Dit is bloot oor die rekenaarsagteware wat ons in die ateljee in gebruik geneem het “SAM Broadcaster” is. Ek was ook verantwoordelik om die stasie se eerste “direkte radiokwaliteit” uitsendings vanaf Aardklop te doen. In die gemeenskapsradiomark het talle ander gemeenskapsradiostasies deur die jare my kennis hieroor aangewend om hulle ook op koers te kry met tegnologie.

Is jy 'n oggendmens?

Ek is ‘n oggend en aand mens (en my praatjies stem ook ooreen…) Ek kan met min slaap klaar kom. Kan vroeg opstaan EN baie laat gaan slaap.

Watter ander werk het jy al gedoen?

Ek is ‘n professionele grafiese ontwerper en uitlegkunstenaar. Het by Klerksdorp Rekord as hoof van die grafiese afdeling gewerk en was ook bladbeplanner by Rapport voordat ek die radiowese betree het. Ek het onderwys studeer met Bedryfsekonomie en Rekeningkunde as vakke en het selfs ‘n draai as bestuurder by ‘n Engelse privaatskool gemaak. Ek is steeds deeltyd besig met grafiese werk en die maak van advertensieborde, muurkuns en t-hemp ontwerpe.

Jou gunsteling kunstenaar?

Plaaslik is dit Steve Hofmeyr. Uit die buiteland is dit Parrish & Toppano, Meatloaf en Enya en ek geniet die goue oues (50’s, 60’s, 70’s en 80’s). Dit is hoekom ek destyds die program “Hoekom So Skaars” begin het. Vir drie ure kan ek speel wat ek ook van hou.

Wie se musiek sal ons verbaas wees om uit te vind jy luister?
Lollos en Lettie.

Die lekkerste deel van jou werk?

Om ‘n verskil in iemand wat eensaam is se lewe te maak deur te weet dat jy op daardie oomblik ‘n vriend was.

Die slegste deel van jou werk?
Om altyd die vraag “hoe gaan dit?” te beantwoord en ook om mense reg te help as hulle dink ek is Jacques.

Wat sou jy nog eendag wil doen?
Saam met my gesin vir ‘n maand in die buiteland toer en al die mooi plekke sien waaroor ek droom. Ek sal ook eendag my eie drukkery wil besit.

Wie was jou mentor in die bedryf?

Toe ek by gemeenskapsradio begin het was dit Henk du Plessis wat my geleer het om passievol oor radio te wees. Vandag pas ek steeds van daardie kennis toe wat hy my geleer het. Later by ander radiostasies het ek ongelooflik baie oor die uitsaaiwese en tegnieke by Theo Conradie en Helen Naudé van die destydse Jakaranda geleer en oor taalgebruik en professionaliteit en die lees van nuus was Johann Britz ‘n mentor.

Watter onderhoud sal jy altyd onthou en hoekom?

Ek het letterlik omtrent met al die plaaslike kunstenaars al onderhoude gehad maar Snotkop staan beslis uit oor sy opregtheid en eerlikheid. Dan het ek deur die jare seker al tien onderhoude met Steve Hofmeyr (indien nie meer nie) gehad. Altyd slim en vlymskerp met ‘n lewensles. Geen aansitterigheid met hom nie. Buitelandse kunstenaars was dit vir my ‘n voorreg om telefonies met Dana Winner uit België te kon gesels en ook met al die lede van Smokie toe hulle ons buite-uitsendingseenheid by Aardklop besoek het. Smokie was intimiderend omdat hulle vir langer musiek maak as wat ek oud is. Tog was dit een van die gemaklikste en lekkerste onderhoude ooit!

Wat weet luisteraars nie van jou nie?

Ek het ‘n Facebook-blad “Manna vir die dag” begin waar ek inspirerende gedagtes deel. Die bladsy het meer as 13000 lede. Ek het landswyd toekennings gewen al vir advertensie-ontwerp in die koerantbedryf. Ek was in my studentejare die “lyf” binne Mina Moo se karakter en die stem van Yogi-Sip se Yogisaurus-karakter tydens kindervertonings by skoue en feeste. Was ook ‘n eerste tenoor in die Alabama Studentegeselskap. Ek het al pryse gewen met my digkuns en dan het ek ook ‘n volledige Tazo-versameling wat ek net nie van ontslae kan raak nie.

Glo jy in VVV's?

Ja, ek doen – Vreeslike Vrolike Vrydae!

 

Die 96.1 Overvaal Stereo webtuiste word met trots geborg en onderhou deur GSD Potch die web mense – www.gsdpotch.com