11 Junie 2019

Mens weet nie waar jy moet vat en waar jy moet los nie.

Hallo aan julle.

Op die kunstefront was dit net een groot hartseer van laasweek af.

Eers het die skok gekom – Jacques de Coning is oorlede. Lydia Winchester het dit gou bevestig en later het die media verklaring gevolg. Sy seun Basil is ook so Vyf jaar terug in ‘n motorongeluk oorlede. Hierdie was ‘n groot skok vir die musiekbedryf. Jacques was nederig, altyd dieselfde en lief vir sing.

Ons bede is by sy mense. Dit is ‘n tyd waar woorde niks beter maak nie – ons kan net vir hulle bid.

Totsiens Jacques , dankie vir die mens wat jy was!

Daarna nog ‘n hartseer wat die kunste tref – Christine Basson, geliefde aktrise, sterf enkele ure na haar 78ste verjaarsdag.  Klas en styl was nou maar net haar deel.

Haar Egoli dae het sy almal se harte gesteel! Sy was mos die liewe Nora gewees. Maar dit is nie al nie, sy het baie ander puik werk gedoen.

Hannes van Wyk het dit mooi beskryf en ek haal sommer die hele berig aan soos hy in ons nuus en op ons facebook geplaas is.

“HULDEBLYKE STROOM IN VIR BASSON…

Huldeblyke stroom steeds in vir die geliefde aktrise, Christine Basson, wat vanoggend in die ouderdom van 78 oorlede is. Sy was veral bekend vir haar rol as Nora in die gewilde sepie, Egoli.  Die Kwêla-aanbieder en akteur, Hannes van Wyk, wat saam met Basson in Egoli te sien was, sê sy was privaat en sou nie verstaan waarom haar dood soveel aandag trek nie. Die aktrise, Brümilda van Rensburg het vir 18 jaar die rol as Basson se suster in Egoli vertolk. Sy sê Basson was uiters professioneel in haar werk.”

Christine was in ‘n tuiste in Johannesburg se verswakte afdeling. En dan skrik mens as jy haar ouderdom sien nè.

Rus in vrede Christine.

Brümilda van Rensburg, agter haar staan Christine Basson in ‘n Egoli toneel.

Lance James se nuwe album is hier. Swansong is iets ander en ‘n nuwe klank. Dit groei op mens en op die oor.

Dankie dat ons genooi was en deel kon wees van die nuwe ene. Op 80 wil dit gedoen wees. Lance, voorspoed met die nuwe produk. En daarmee saam welgedaan!!

Wian van MarketingZoo het verjaar en ons was ook genooi. Kyk daar is behoorlik partytjie gehou hoor! Die saal was ‘n regte 80’s sprokie gewees.

Ons het hamburgers geëet en banana splits vir nagereg gekry. Voorspoed met die volgende 30 jaar Wian. Ons het lekker gekuier saam julle. Ons werksverhouding is ook ‘n lekker een saam The MarketingZoo!

Toe was dit weer tyd vir die AfrisaamFees 2019. Ons uiters gewilde facebook live videos het gemaak dat ons genooi is om ‘n paar onderhoude te gaan doen.

Kyk, ons het gebibber van die koue – maar dit was lekker en daar was duisende mense – in die koue, gereed om saam te fees. Die geleentheid is in Springs aangebied. Kyk vir die videos elders op ons blad.

Ivan Roux se mens wees het beindruk! Ons hou vir hom dop. Mense mens – met opregtheid gevul.

Comrades 2019 is agter die rug – die wenner in die dames afdeling kom’n klipgooi van die huis af. Gerda Steyn is van Bothaville in die Vrystaat, afkomstig. Sy het die rekord laat spat deur klaar te maak onder 6ure, die eerste vroue atleet wat dit nog ooit kon regkry. Goeie werk en baie geluk. Kan ek dan maar sê – hak Vrystaat!

Die stasie het vir twee dae gaan basaar hou in Klerksdorp by Môrester gemeente. Kyk ons het nog nooit gesien dat soveel kos so gou uitverkoop word nie (fotos elders op die blad).

Elize Kruger daag op en kom koop een groot sak lekkers vir ons. Spesiaal!

Dankie aan elke een wat ons hande omhoog hou met ons buiteuitsendings. En dit is mos altyd lekker om ons mense te sien en bietjie te gesels.

Dankie aan die gemeente wat ons elke jaar getrou terug nooi. Ons kuier altyd heerlik saam julle en welgedaan met ‘n meester van basaar!

Ons facebook blad kry nou gestalte en groei daagliks. Ons fokus op nuus wat die mense wil sien en wil lees. Welkom aan die duisende wat bygekom het – lekker lees.

Dit gaan goed by ons. Die winter het sy tande ingeslaan hier in die Vrystaat. Ons bibber! Maar dit moet ook nou maar verby gaan. Desember braai ons weer uit en swem lekker.

Jacques Smit het kom inloer – dit gaan goed met hom en die nuwe werk.

Ons is altyd gereed om van julle te hoor so maak gerus kontak. As daar dinge is waarvan ons moet weet – laat weet ons.

Christia Visser se 17 shots doen goed by ons. Ons word oorval met nuwe musiek. Francoise van Rensburg se weergawe van Pa, is net betyds vir Vadersdag, komende Sondag. Onthou, bederf maar vir Pa.

Alles wat mooi en warm is vir julle.

Aardklop kom die jaar in September. Ons klop al reeds aan die reëlings hierdie kant om gereed te wees om saam te klop.

Groete uit die kantoor.