16 Julie 2019

Goeie dag uit ons kantoor.

Audrey raas al oor die nuus uit die kantoor , nou maar hier is ek!

Vandat ons laas gesels het, was daar al talle funksies en kuiers en besoeke ook natuurlik.

Een lekker kuier waarna ons uitgesien het was die Dienssentrum Potchefstroom se dankie funksie. Ons het dit gaan bywoon – dankie vir julle dankie.

Overvaal Stereo het deel geword van die uitreik saam Mega Save in Potchefstroom – en ‘n bakkie vrag vol goed wat ons nie meer wil of gaan gebruik nie, het later ‘n vragmotor vol geword!

Mense, ons mense kry bitter swaar! Kyk gerus na die videos elders op ons blad.

Mens hoor net van hierdie goed, maar ek het dit gaan sien! As ek en jy vandag ‘n dak oor die hoof het en ‘n bord kos op die tafel is ons bevoorreg! Ek het met rukke swaar gesluk.

As jy sien van ‘n uitreik – maak seker wie in beheer staan en ondersteun. Ons mense trek noustrop daar buite.

Dit was vir ons ‘n groot voorreg om deel te kon wees van die dag en maak mens opnuut klein en dankbaar.

Mens kyk na die kinders wat kinderlik opgewonde grou tussen speelgoed wat my en jou kinders nie meer wil hê nie en jy vra , Vader wat is hierdie kinders se toekoms?

Aan elke skenker ! Dankie.

Ons finansiële bestuurder, Stephanie van der Merwe het verjaar en dit was vir ons heerlik om haar as personeel te bederf. Seën vir die nuwe lewensjaar! Dankie vir die voorloop met die finansies Stef.

 

Aardklop 2019 is oppad! Onthou die jaar se datum is in September en nie Oktober soos elke ander jaar nie. Overvaal Stereo kuier weer saam die jaar. Ons is gereed en sien uit! Ons bring vir jou mos radio met praaitjies, so ons gaan lekker saam kuier.

Ons facebook bladsy is haastig oppad na 57 000 lede toe. Ons is nogal trots op die groei van 52 000 nuwe lede in ‘n jaar. Soms raak dit ‘n uitdaging om al die platforms by te hou – maar dit is ook ‘n lekker.

Dit gaan beter met ons vryskut omroeper, Hanlie Van Jaarsveld se eggenoot. Pieter was baie siek en sterk steeds aan. Hanlie is steeds met verlof en julle sal haar binnekort weer hoor. Sy het ook die afgelope week verjaar. Mooi wense Hanna.

Maroela Media bied hulle jaarlikse seminaar hierdie jaar aan in die Kaap. Drie van Overvaal Stereo se personeellede is gepak en gereed om Kaap toe te vlieg om hierdie skatkis ons deel te maak.

Baie dankie byvoorbaat aan die hele span wat hard werk om hierdie vir gemeenskapsradio moontlik te maak. Ons is opgewonde om te gaan leer en om die radio kennis bymekaar te maak en saam die ander stasie hande te vat en by mekaar te leer. Al die ander stasies wat ook die langpad vat, veilig aankom.  Ons sien mekaar daar.

3 Augustus is dit tyd vir die jaarlikse Goudkoppie Fees in Klerksdorp.  Jakkie Louw, Johan van der Merwe, Shylo Vally, Charles Rudd en Esmond kom optree. Overvaal Stereo sal ook daar wees.

Die winter is maar koud in die Vrystaat. Die boere het gewag vir die ryp, en nou sien mens hoe die manne werk om te oes. Kyk maar vir die stadig bewegende voertuie as jy in ons gebied kom reis.

Jaco de Waal is op die lug maar die man verbreed sy kennis deesdae in ons kantoor ook. Dit is lekker om saam met so dinamiese span mense te werk wat wil leer!

Ons praat binnekort weer, ek moet meer tyd maak vir die gedagte uit die kantoor, ek weet.

Alles van die beste.

Dankie vir die besoeke aan ons webtuiste.

Groetnis.

Ignaz.