25 Julie 2019

Welkom uit ‘n koue Vrystaat en dagsê.

Wel hier by ons is dit winter ja, maar ek het winter gaan leer ken in die Kaap!

Baie gebeur in so kort tyd. Ekself, Jaco en ons intern het mos die pad gevat Kaap toe. Maroela Media bied jaarliks ‘n seminaar aan en ek besef die waarde daarvan. So al was hierdie bietjie duur en lank van die werk af, het ons besluit ons is oppad.

Kennis is mos maar mag, en by so radio seminaar loop dit oor van kennis. Jy kry die geleentheid om saam 100 ander uit die radiowese kante te raak en te leer.

Dit is nou wel die Kaap en die mooiste omgewing in Suid-Afrika, maar Overvaal Stereo het met een doel voor oë gegaan, om met kennis terug te kom.

Soos Marietha Kruger dit beskryf het, die mense voor haar is soos sponsies – hulle suig alles op.

Elke spreker wat voor ons gestaan het, het sy/haar eie waarde toegevoeg tot die mense wat voor hulle gesit het. Dankie!

Dankie ook aan Maroela Media en al hulle borge wat ons die kans gegun het om weer te gaan leer en te netwerk saam met die ander stasies.

Daar is lekker gelag en gekuier ook so tussendeur. Die mense se lus vir radio en sy uitdagende werking was aansteeklik.

Die Kaap was alles behalwe warm. Met rukke het ons gebibber! Maar die skoonheid van die lewe om jou, maak op daarvoor.

Ek deel ‘n staaltjie : So is dit die laaste vers en almal moet buite op die trap bymekaar kom vir ‘n groep foto. Wel, die wind sny dwarsdeur alles wat ek aanhet, en dit voel kort-kort of jy hartverlamming in die gesig staar. Voor ek my kom kry sê ek “As ek nog een minuut langer koud kry, kry ek sowaar ‘n senuineenstorting”, maar ek sê vir hom met die klem op die regte plekke en in suiwere – oorgeronde Afrikaans! Coenie kyk om en bars uit van die lag – nodeloos om te sê ek is nie op die groep foto nie! Ek het binne gaan skuiling soek en myself die senu gespaar.

Maar dit was steeds lekker!

Ons het Delia besoek. Delia het sommer gou bekendheid verwerf met die hele KykNet ding. Ons wou ‘n ander hoek van die storie kry. Nie oor die “kristalbal” nie, maar eerder oor die mense van die blommemark, die uitdagings en die genot. Delia is toe bederf met pantoffels – net omdat ons anders is as ander.

Was feestelik om ‘n paar oomblike ook daar te kon kuier. Daar is ‘n video van ons besoek op Overvaal Stereo se facebook bladsy.

Ek het besluit om my kollegas Houtbaai toe te vat vir vis en skyfies en dit is ook hier waar ek en Jaco toe saam twee mense wat lekker musiek maak (op hulle eie Kaapse manier) Suikerbos ek wil jou hê sing! Video elders op die blad.

As ons (wéér) iets geleer het, is dit dat Overvaal Stereo 96.1fm op ‘n goeie plek is. Dank aan ons Hemelse Vader. Aan ons kollegas in die uitsaaiwese wat swaar trek – bytvas.

Daar is grondgrype in Stilfontein, Noordwes. Overvaal Stereo was daar om verslag te doen en hou ons bekommerde luisteraars op hoogte op die lug.

Johnny Clegg is oorlede. Medelye het van orals op sosiale media ingestroom.

3 Augustus is die Goudkoppie Fees en ons is weer deel.

Aardklop is oppad.

Dit was ‘n mond vol die week – bly maar warm as dit winter is daar waar jy lees. Dit is koud, maar nie so koud by hier in die Vrystaat soos in die Kaap nie. Ons is die wind gespaar!

Mooi loop. Geniet jou gemeenskapstasie. Ondersteun hulle en maak so nou en dan kontak – hulle waardeer dit regtig. Ek het dit weer besef met hierdie seminaar.

Ek los jou met die stukkie waarheid wat ek saam gebring het van die seminaar af:

Die een ding waaroor ek en jy volle beheer het is ons houding!

Groete Ig.