31 Julie 2019

Dagsê uit die kantoor.

Ek val sommer met die deur in die huis en vertel waar ons gaan rondloop het.

Liedjies uit die movies is aangebied by Emperors Palace en ons is genooi om te gaan saam kuier.

Dit was ‘n heerlike voorreg om met Lee Magnum te kon gesels, die video is elders op ons webblad. Man kyk, toe ek en Lee nou eers aan die praat raak na die onderhoud toe is daar geen keer nie!

Lee herroep toe die groot straatfees aangebied het in Randlespark! En hy slaan die spyker op die kop, dit was daardie jaar groot. Baie groot!  Soos Lee is, stel hy voor – doen hom weer. Kry ons mense bymekaar, dat hulle vleis bring en braai.

Was heerlik om met Lee te kon gesels. Die man se musiek word vandag nog aangevra. Die mense vind steeds aanklank by sy musiek.

Lee het vertel van ‘n nuwe album. Hy sal hom vir ons bring, dan kuier ons lekker op die lug. Hy het ook die dae van Radio Koppies onthou! Ja, dae wat hy sommer self ingeval en uitgesaai het. Lekker om sulke nederige kunstenaars raak te loop – plat op die aarde!

Die Lieflinge het ook met ons gesels. En het hulle alles gegee tydens hulle optrede!! Rudi lyk goed. Ek stap  ook al jare ‘n pad saam met hom.  Hulle het my weer laat vergeet toe ek so sit en luister.

Nadinè klim op die verhoog en sing My heart will go on! Sy sing vir my stil. Die mens kan regtig sing en het vocal capability wat skrik vir niks.

Soos ek vir haar sit en kyk besef ek – Nadinè is goed! Sy sing daai lied met soveel passie, gevoel en deernis dat mens sal glo die lied is spesiaal vir haar geskryf!

Die liewe liewe Mara van den Berg was ook daar en ook Samantha was op haar pos by die cd tafel. My hartsmens daardie. En altyd lekker om ‘n klap soen en druk in te werk. Lance ook gesien, hy het die gawe om mens soos die enigste een daar te laat voel.

Ek het die produksie geniet. Ek het vir Carien en Nadinè gesê – julle het die konsep hier. Hou hom. Was lekker om die ou musiek te hoor.  Dont cry for me Argentina – deur Jennifer Jones het ook in die hart getref.

Ons glo die produksie sal van krag tot krag gaan.

Ek hou ‘n Elvis oggend 23 November. Baie opgewonde en baie planne. Touch of Class kom kuier.  En ek het baie idees. Ek gaan julle meer vertel later.

Saterdag is dit Oppigoudkoppi Fees in Klerksdorp.  Overvaal is deel daarvan.  Hulle gee al die wins weg – Sabbatsjaar.  Wat ‘n mooi gebaar.  Ondersteun hulle gerus.  Ons saai regstreeks uit van daar. Kom sê hallo.

Onthou rugby raai elke Saterdag by ons op die lug – jy kan ‘n lekker paar rand wen!

Laat ek die pen neersit voor die ink op is.

Ons praat binnekort weer.

Mooi loop. Byt vas – winter is amper verby.

Groete:

Ig