Liberty Radio Toekennings

Overvaal Stereo vat hom...

Overvaal Stereo het in die Liberty Radio toekennings se afdeling vir MY STATION weggestap met die toekenning vir die lojaalste luisteraars! Ons is dankbaar! "Mens dink mos maar altyd so, maar nou is dit amptelik bevestig met 'n toekenning" het die stasie bestuurder, Ignaz Streicher, gesê.

Ons het in 2012 dieselfde tevredenheid ervaar toe ons opslae gemaak het met die wen van 'n Huisgenoot Tempo toekenning.

Ons sal nooit doen wat ons doen om toekennings te ontvang nie, want dan is mens op die verkeerde pad, ons doen wat ons doen want dit is 'n passie, dan gebeur die en jy weet jou passie druk jou in die regte rigting.

Die toekenning kom dalk hier by ons ateljee in Viljoenskroon hang, maar die veer is in die hoed vir elke gemeenskapsradiostasie regoor die land. Streicher het destyds tydens die Tempo-toekenning gesê wanneer 'n gemeenskapsradiostasie presteer, dan beteken dit  gemeenskapsstasies in geheel doen goed. Want ons doen almal 'n soortgelyke werk!

Soms word gemeenskapsstasies en hulle mark onderskat!  Hier wys ons weer - ons mark ondersteun die stasie.

Overvaal Stereo 96.1 ontvang graag hierdie toekenning namens elke gemeenskapsradiostasie wat hard werk, magic maak, soms onder moeilike omstandighede en nie aldag die erkening kry wat hulle verdien nie. Hierdie een is vir elke musiek samesteller regooroor die land wat seker maak die mark se ore bly op die regte plek en elke persoon binne die gemeenskapsradiostasies wat hard agter die skerms werk!

Aan elke persoon wat tydens die jaar se Liberty Radio toekennings 'n toekenning ontvang het, baie geluk! Die ander finaliste, welgedaan en die wat in die stilte voortbeur - dankie aan julle ook.

Streicher het die volgende boodskap aan die Overvaal Stereo span : "julle ouens maak dat ons soms onverwags saam ons luisteraars aan die voorgrond staan. Julle werk almal baie hard, ons wat saam die wa deur die drif trek sien, ervaar en beleef dit. Dankie dat ek kan sê ek werk saam met 'n gedugte span mense, wat nie net werk nie , maar 'n passie het vir Afrikaans, ons mense, ons streek en vir radio in geheel!   Aan elke luisteraar - die as waarom alles draai. As julle nie gestem het nie, was die voorreg om hierdie te skryf nou nie ons sin nie. Dankie dat julle luister, dankie dat julle ondersteun, dankie dat ons kon wen."

Overvaal Stereo het die afgelope jaar en drie maande ongekende seën van ons Hemelse Vader ontvang. Ons is nederig, dankbaar!

Groete.

Ignaz en die Overvaal Stereo span.

*Baie dankie aan Sarina Frauenstein van Pretoria Fm wat hierdie toekenning namens Overvaal Stereo 96.1fm ontvang het aangesien Overvaal Stereo 'n musiekfees aangebied het oor die naweek en dus nie self daar kon wees nie.